Die moedertaalprojek is een van Afrikaans.com se grootste projekte en gaan steeds elke jaar van krag tot krag. Vanjaar was geen uitsondering nie.

Afrikaans.com het weereens hande gevat met verskeie vennote om die sukses van die projek te verseker. Hierdie vennote sluit in die ATKV, Maroela Media, Helpende Hand se SOS, Lapa-Uitgewers, die SAOU, Beeld, die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederlands en Vlaandere (SASNEV), die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust (SAOOT).

Met die groot aantal vennote wat hul steun aan die projek verleen het, kon Afrikaans.com ’n verskeidenheid skole bereik en sodoende die boodskap oor moedertaalonderrig vlerke gee.

Vanjaar se pakkette het elk bestaan uit vier plakkate wat in skole en klaskamers opgesit kan word. Die plakkate lug, onder andere, die voordele van moedertaalonderrig uit, bied redes waarom kinders trots kan wees op hul moedertaal en werp ook lig op die beroepsmoontlikhede wat moedertaalonderrig bied.

Vir meer inligting oor die projek of om van die plakkate af te laai, klik hier.